Geskiedenis
Voor die begin
Gedurende 1965 het Mnr. Ben Pienaar, destydse Skoolhoof van Warner Beach se Parallelmedium Laerskool – vandag bekend as die Warner Beach Senior Primary School – dit onder die aandag van die lede van Kajuitraad Suidkus gebring, dat die Standerd 6 (Graad 8) Afrikaansmediumklas by sy skool deur die Natalse Onderwysdepartement afgeskaf gaan word.
Op daardie stadium was daar klasse gewees in alle laerskole van Klas 1 (Graad 1) tot by Standerd 6 (Graad 8). In daardie jare is na Graad 1 en 2 verwys as Klas 1 en Klas 2, en wat vandag bekend is as Graad 3 was destyds Standerd 1.
Dit het die lede van Kajuitraad Suidkus laat besef hoe dringend die behoefte vir ‘n Afrikaansmedium hoërskool aan die Natalse Suidkus werklik was. Op daardie stadium was daar geen hoërskoolfasiliteite vir die Afrikaanssprekende kind suid van Durban beskikbaar gewees nie.
Afrikaanssprekende kinders moes dus na Afrikaanse skole in Durban en omgewing toe gaan indien hulle hul hoërskoolloopbaan in hul moedertaal wou voltooi, of hulle moes in Engels in Amanzimtoti skoolgaan.
Gevolglik het Kajuitraad Suidkus op sy vergadering van 15 Junie 1965 besluit om tot aksie oor te gaan, en “te werk vir ’n Afrikaansmedium laer- en hoërskool in Amanzimtoti”, wat die Suidkus van Natal sou bedien.
Toestemming by die Onderwysdepartement
Onder leiding van Kajuitraad Suidkus is die Suidkus Afrikaanse Ouerkomitee op 11 Junie 1968 gestig, met Danie van der Spuy as Voorsitter, Ds. Vonnie du Toit as Ondervoorsitter en Boela Naude as Sekretaris.
Op 8 Augustus 1968 spreek die voorsitter en sekretaris van die Komitee die Direkteur van Onderwys, Mnr. PRT Nel.
Namens die Natalse Onderwysdepartement maak die Direkteur die volgende aanbiedinge aan die Afrikaanse Ouergemeenskap van Amanzimtoti:
• Dat tydelike klaskamers opgerig sal word op die 5,7 akker grond, op die hoek van Bernadotte- en Froststrate.
• Dat hierdie klaskamers gereed sal wees om in Januarie 1970, betrek te word.
• ‘n Stuk grond van ongeveer 25 akker tussen Pahlastasie en die snelweg sal deur die Onderwysdepartement van die Munisipaliteit van Amanzimtoti aangekoop word vir die latere oprigting van ‘n permanente skoolgebou.
Op sy vergadering van 21 Augustus 1968 neem die Ouerkomitee die Onderwysdepartement se
aanbod met dank aan.
Opening van die Afrikaansmedium skool in Amanzimtoti
Die Suidkus Afrikaanse Ouerkomitee het nog vier vergaderings gedurende 1969 gehou, waartydens hoofsaaklik aandag geskenk is aan die bemarking van die nuwe skool, ten einde te verseker dat die skool met genoeg leerders sou open.
Dit was ‘n groot dag vir die Afrikaanse gemeenskap van Amanzimtoti, toe die “Afrikaansmediumskool van Amanzimtoti” (soos wat Kuswag aanvanklik bekend gestaan het), op Dinsdag 20 Januarie 1970 geopen is met Mnr. Casper Bornman as skoolhoof, Mnr. Danie Bezuidenhout as onderhoof, 11 personeellede en ‘n leerlingtal van net oor die 300.
Kuswag se eerste skoolhoof – Mnr. C.J.H. Bornman
Mnr. Casper Jacobus Hendrik Bornman is op 1 Februarie 1921 in Brandfort in die Vrystaat gebore.
Skryf matriek in 1936 aan Hoërskool Brandfort.
Studeer aan die U.O.V.S. en UNISA
Behaal die volgende kwalifikasies ; B.Sc., U.O.D. en B.Ed.
Getroud met Judith (Babs) van der Walt en hulle het drie kinders Judie, Nellie en Johan.
Johan was Onderhoofseun van Kuswag in 1974.
Diensjare by Kuswag: Januarie 1970 tot Junie 1981, totaal van 11,5 jaar.
Mnr. Bornman sterf op 18 Desember 2010, in die ouderdom van 89 jaar.
Die Benaming "Cardboard College"
Die nuwe skool het bestaan uit tydelike klaskamers wat nie permanente geboue was nie.
As gevolg van die aard en uiterlike voorkoms van die klaskamers, het die Engelse gemeenskap die skool baie vinnig met die naam “Cardboard College” gedoop.
Dit het natuurlik almal betrokke by die skool gemotiveer en aangespoor tot hoër hoogtes en prestasies.
Die gemeenskap van Amanzimtoti het ook vinnig kennis geneem van die karakter, inbors, deursettingsvermoë en etos van hierdie nuwe Afrikaanse skool, sy personeel en sy leerlinge.
Die groei van die nuwe skool
Toe die skool in 1970 sy deure geopen het, het die grade in die skool gestrek van Klas 1 (Graad 1) tot by Standerd 6 (Graad 8).
Daarna is daar elke jaar ‘n nuwe standerd / graad bygevoeg, m.a.w. graad 9 in 1971, graad 10 in 1972, graad 11 in 1973 en uiteindelik het die skool in 1974 ‘n eerste graad 12 klas gehad.
Hierdie Afrikaansmediumskool van Amanzimtoti het so vining gegroei dat daar aan die einde van 1971 en aan die begin van 1972 begin is met die oprigting van nog tydelike klaskamers by die skool om die groeiende getal leerders te kon huisves.
Aan die einde van 1971 het die getal leerlinge van die skool tot oor die 700 gestyg.
Die jaar 1972
In die geskiedenis van Kuswag Skool, sal die jaar 1972 altyd belangrik wees en wel om die volgende redes:
Die naam van die skool
Aan die begin van die jaar 1972 is ‘n kompetisie geloods om ‘n naam vir die skool te vind, wat toe nog steeds bekend gestaan het as die Afrikaansmediumskool in Amanzimtoti.
Daar is kennis geneem van ‘n laerskool in Oos-Londen met die naam van Kuswag Laerskool, en “Kuswag” is toe onmiddellik ingeskryf vir die kompetisie.
Die naam Kuswag Hoërskool is uiteindelik op 10 Mei 1972 deur die Uitvoerende Komitee van die Natalse Onderwysdepartement goedgekeur en aanvaar.
Die skoolwapen en skoolleuse
Die oorspronklike skoolwapen is deur Mnr. Eugene Meyer, voormalige Kunsdosent aan die Durbanse Onderwyskollege ontwerp.
Hierdie skoolwapen en die leuse “Net ons Beste” is beide op 31 Mei 1972 deur die Adviserende Skoolkomitee (ASK) as amptelike wapen en leuse vir Kuswag Hoërskool aanvaar en in gebruik geneem.
Fase een – “Cardboard College”
Die eerste fase van Kuswag Skool, wat in Januarie 1970 begin het, het gestrek tot einde Desember 1976, toe die derde en laaste matriekklas van die “Cardboard College” matriek geskryf het.
Toe dié matriekklas besig was om hul eindeksamen te skryf, het die res van die leerlinge elkeen hul eie bank en stoel oor die treinspoor gedra oppad na die nuwe skool.
In Januarie 1977, sewe jaar nadat Kuswag Hoërskool amptelik sy deure geopen het, het fase twee begin en het die leerlinge en personeel in ‘n splinternuwe, permanente gebou ingetrek en begin skoolgaan.
Fase twee – “nuwe begin”
Fase twee begin in Januarie 1977 en strek tot Desember 1985 - Kuswag was steeds ‘n gesamentlike skool van Graad 1 tot by Graad 12.
Gedurende hierdie tydperk van nege jaar sou Kuswag steeds van krag tot krag gaan en het die leerlingtal van die skool bly toeneem en gestyg tot ‘n hoogtepunt van 1250 leerlinge.
Aan die einde van Junie 1981 tree die eerste skoolhoof, Mnr. C.J.H. Bornman, af en Mnr. C.G. Janse van Rensburg word aangestel as die nuwe skoolhoof vanaf Julie 1981.
Kuswag se tweede skoolhoof – Mnr. C.G. Janse Van Rensburg
Mnr. Christiaan Gerrit Janse van Rensburg is op 13 Mei 1942, in Petrusburg in die Vrystaat gebore.
Skryf matriek in 1960 aan Hoërskool Jagersfonteun.
Studeer aan die U.O.V.S. en UNISA
Behaal die volgende kwalifikasies: B.Sc., U.O.D. en B.Ed.
Getroud met Marie en hulle het twee kinders, Amanda en Chris.
Beide is oud-leerlinge van die skool.
Adjunkhoof van Januarie 1979 tot Junie 1981.
Diensjare as Skoolhoof by Kuswag: Julie 1981 tot Desember 1992.
Totale diensjare: 2,5 + 11,5 = 14 jaar.
Fase 3 – Kuswag Laerskool
Hierdie fase strek vanaf Januarie 1986 tot Desember 1993.
Gedurende die vroeë tagtigerjare is daar begin om die geboue van die ou Kuswag Hoërskool, oftewel die “Cardboard College” af te breek en die terrein skoon te maak.
Daarna is begin met die bou van Kuswag Laerskool en in Januarie 1986 het die laerskoolgedeelte van Kuswag Hoërskool weer teruggetrek na ‘n splinternuwe laerskoolgebou, op dieselfde terrein van die ou “Cardboard College”.
Vir die eerste keer in die skool se geskiedenis het die hoër- en laerskoolgedeeltes dus apart gefunksioneer.
Kuswag Laerskool het toe ook sy eerste en enigste skoolhoof in die persoon van Mnr. Max Roscher gehad.
Kuswag laerskool se skoolhoof – Mnr. Max Roscher
Mnr. Max Siegfried Roscher is op 27 November 1941, in Umtata in die Oos-Kaap gebore.
Skryf matriek in 1959 aan Hoërskool Nelspruit.
Studeer aan die Pretoriase Onderwyskollege
Behaal die volgende kwalifikasies: vier jaar Onderwysdiploma (H.O.D.).
Getroud met Annatjie.
Diensjare as Skoolhoof by Kuswag Laerskool: Januarie 1986 tot Desember 1993.
Totale diensjare was 8 jaar gewees.
Oorlede op 25 Mei 1997.
Kuswag se derde skoolhoof – Mnr. A.P.N. Van Wyk
Mnr. Alphonse Pierre Nicolai van Wyk is op 9 September 1944 in Johannesburg, Gauteng gebore.
Skryf matriek in 1962 aan Hoërskool D.F. Malan, waar hy ook die hoofseun was.
Studeer aan die Goustadse Onderwyskollege en UNISA
Behaal die volgende kwalifikasies: B.A., H.O.D. en B.Ed.
Getroud met Marietjie Koch en hulle het vier kinders Marlien, Riëtte, Nicolette en ‘n seun André.
Al vier is oud-leerlinge van die skool.
Diensjare by Kuswag as Departementshoof / Adjunkhoof: 17 jaar
Diensjare as Skoolhoof: Januarie 1994 tot April 1997 – 4 jaar.
Totale diensjare: 21 jaar.
Fase 4 – Kuswag verenig weer tot een skool
Hierdie fase het gestrek van Januarie 1994 tot Desember 1998.
Kuswag Hoërskool en Kuswag Laerskool het individueel goed presteer en van krag tot krag gegaan, maar in die vroeë negentiger jare het getalle in beide skole begin daal.
Die twee skole se Besture en Beheerliggame het toe besluit dat dit beter sal wees vir beide skole om weer saam te smelt.
Na ‘n tydperk van 8 jaar het die Laerskool weer teruggetrek na die groter Hoërskoolgeboue toe, en was die skool weer ‘n eenheid van Graad 1 tot 12.
Die nuwe onderwysbedeling het in 1996 in werking getree en kort daarna het die Onderwysdepartement vir Kuswag laat weet dat die skool nie langer as Kuswag Hoërskool kan bekendstaan nie, omdat daar ook laerskoolleerlinge in die skool was.
Aan die begin van 1999 het die naam amptelik verander en sedertdien staan die skool bekend as Kuswag Skool.
Kort daarna het Amanzimtoti Primary School in die geboue van Kuswag Laerskool ingetrek en dit is steeds APS se tuiste.
Mnr. Van Wyk het ook gedurende hierdie tydperk, aan die einde van April 1997, afgetree.
Mnr. Jan Niemand, wat op daardie stadium Adjunkhoof was by die Hoërskool, het toe vir die volgende agt maande waargeneem as Skoolhoof, tot Desember 1997.
Kuswag se vierde skoolhoof – Mnr. P. Pettit
Mnr. Petrus Hendrik Pettit is op 4 April 1956 in Barkley-Wes, Noord-Kaap gebore.
Skryf matriek in 1973 aan Hoërskool Vaalrivier.
Studeer aan die U.O.V.S. en UNISA.
Behaal die volgende kwalifikasies: B.A., B.ED. en M.ED
Getroud met Corné Botha en hulle het twee dogters, Nicolene en Ilze.
Beide is oud-leerlinge van die skool.
Diensjare as Skoolhoof: Januarie 1998 tot Desember 2005.
Totale diensjare: 8 jaar.
Kuswag bereik hoogtepunte
Kuswag is deurlopend daarvoor bekend dat beide personeel en leerlinge die leuse van die skool ten volle uitleef en altyd net hul beste gee en lewer.
Dit het uit die aard van die saak reeds gelei tot uitstekende prestasies op alle terreine van die skoollewe.
Akademie
‘n Meerderheid jare van 100 % slaagsyfer in die matriekeindeksamens bly ‘n bewys van die harde en deeglike werk wat in die klaskamers plaasvind.
Kuswag pette
Op kulturele gebied het Kuswag nog altyd puik presteer; vroeër jare se dramas, personeelkonserte, revue’s en operettes, en die laaste paar jare se prestasies in die ATKV se Tienertoneel, is ‘n duidelike bewys daarvan.
Sport
Kuswag het deur die jare ‘n reputasie opgebou as uiters bekwame opponente op die sportveld, ongeag watter sportkode betrokke is.
Die talle trofeë verower en prestasies gelewer tot op hede spreek van die kwaliteit van ons sportspanne en toegewyde afrigting deur die jare.
Prestasies van oud-leerlinge
Prestasies op skolevlak is een ding, maar die werklike waarde van ‘n goeie skoolopvoeding wys duidelik in die prestasies van oud-leerlinge na skool.
Kuswag Skool kan met reg trots wees op oud-leerlinge wat plaaslik en oorsee tot hul reg gekom het met leiersposisies, uitsonderlike prestasies en professionele uitnemendheid.
Kuswag se vyfde skoolhoof – Mev. L.A. Scholtz
Mev. Linda Ann Scholtz is op 8 Augustus 1962 in Durban, KZN gebore.
Skryf matriek in 1980 aan Mowat Park Girls’ High.
Studeer aan die Durbanse Onderwyskollege (Dokkies) en PU vir CHO (Pukke)
Behaal die volgende kwalifikasies: H.O.D. en B.Ed.
Getroud met Dirk Scholtz en hulle het een seun, LLiam.
Diensjare as Skoolhoof: Januarie 2007 tot Desember 2016.
Totale diensjare: 10 jaar.
Kuswag se sesde skoolhoof – Mnr. C. Lindeque
Mnr. Chris Lindeque is op 15 Desember 1959 in Germiston, Gauteng gebore.
Skryf matriek in 1979 aan Hoërskool Dirkie Uys, KZN.
Studeer aan die Durbanse Onderwyskollege (Dokkies) en UNIZUL
Behaal die volgende kwalifikasies: H.O.D. en B.Ed.
Getroud met Bernadette en hulle het twee dogters Bianca en Cara.
Diensjare by Kuswag as Departementshoof / Adjunkhoof: 22 jaar
Diensjare as Skoolhoof: Januarie 2017 tot April 2021– 4 jaar.
Totale diensjare: 26 jaar.
COVID-19
Die Covid-pandemie wat wêreldwyd en in alle skole sy voetspore gelos het, het ook in Kuswag groot ontwrigting gebring. Vir ‘n hele jaar vanaf Maart 2020 tot Maart 2021 moes ons dinge anders doen.
Dit was ‘n aanpassing gewees vir personeel, leerlinge en ouers en ons sal seker nooit die werklike impak besef wat dit aan die opvoedkundige sisteme in ons land tot gevolg gehad het nie.
Alle sisteme en roetines is omvergegooi en onderwys sou daarna nooit weer dieselfde wees nie.
Al die gevolge van Covid was egter nie negatief gewees nie en baie nuwe maniere van klasgee en kommunikasie is geleer en aangewend.
Aan die einde van April 2021 het Mnr. Chris Lindeque afgetree as skoolhoof, na 26 diensjare by Kuswag, waarvan die laaste vier jaar as Skoolhoof.
Mnr. Pieter van der Spuy, wat op daardie stadium die Adjunkhoof by die Laerskool was, het toe vir die volgende agt maande waargeneem as Skoolhoof tot einde Desember 2021.
Mnr. Van der Spuy was die eerste ingeskrewe leerling van Kuswag gewees en ook die derde hoofseun van die skool in 1976.
Kuswag se sewende skoolhoof – Mnr. M.J.K. Prinsloo
Mnr. Martin Johannes Knoetze Prinsloo is op 21 Oktober 1976 in Durban, KZN gebore.
Skryf matriek in 1994 aan Kuswag Hoërskool, Amanzimtoti, KZN.
Mnr. Prinsloo is die eerste oud-leerling van Kuswag wat die amptelike skoolhoof van die skool geword het.
Studeer aan UNISA
Behaal die grade B JURIS, LLB EN PGCE.
Getroud met Nicolene en hulle het twee kinders, Lerissa en Kian
Sy vrou en albei hul kinders is oud-leerlinge van die skool.
Diensjare as Skoolhoof: Januarie 2022 tot huidig.
Totale voltooide diensjare: 2 jaar.
Fase 5 – Kuswag kry ‘n Kleuter Akademie
Aan die begin van 2023 het Kuswag Skool sy eie Kleuter Akademie gekry na baie harde werk onder die bekwame leiding van Mev. Yvette van der Nest, Departementshoof by die Junior Primêre Afdeling.
Die Kleuter Akademie bestaan uit Graad R en Graad RR.
Dit is dus nou moontlik vir ‘n leerder om vir 14 jaar by Kuswag skool te gaan.
Foto:
Pieter Van Der Spuy (regs), die eerste leerder-inskrywing by Kuswag Skool in 1970 saam met ons Kleuter Akademie se heel eerste inskrywing in 2023.